Story in Volksblad on TwoPianists Records

Oorsese musici klop by SA opname-ateljee aan
2012-10-15 21:49
Elretha Britz
Source:
(http://www.volksblad.com/Vermaak/Nuus/Oorsese-musici-klop-by-SA-opname-ateljee-aan-20121015)

DIE opnamehuis TwoPianists vul ’n groter leemte in die vaslegging van Westerse kunsmusiek as wat die stigters Nina Schumann en Luis Magalhaes ooit kon droom.

Dié pianis-egpaar het vier jaar gelede op Stellenbosch ’n opname-ateljee begin sonder “’n benul wat dit behels”.

Nou blyk dit nie net Suid-Afrikaanse kunstenaars het die voordeel van dié konsertkunstenaars se fyn gehoor om die beste moontlike opnames te verseker nie, maar ook buitelandse kunstenaars kom klop hier aan.

Buitelandse musici
Die Russiese pianis Konstantin Scherbakov, tans op ’n konserttoer deur Suid-Afrika, het by TwoPianists beland nadat hy toenemend ontevrede geraak het met die voorskriftelikheid van en gebrek aan individualiteit van wêreldbekende ateljees.

“Scherbakov het reeds 44 albums opgeneem, van die meeste deur ’n konsertmusikus, en ken die bedryf deur en deur. Ons (TwoPianists) het hom die vryheid gegee om sy program te kies, die mooiste moontlike klank help bepaal en hom koestering gegee wat nie meer in die groot ateljees gevind word nie.”

Scherbakov was so tevrede met sy CD’s ME on wings of song (bekende klavierwerke) en Soirée Russe (Moessorgski, Rachmaninoff, Prokofiëf) dat hy Daniel Raiskin, dirigent van die Rynse Filharmoniese Staatsorkes in Duitsland, na TwoPianists verwys het.

Dit is hoe dit gebeur het dat al vier Brahms se simfonieë in Duitsland uitgevoer deur dié orkes op Stellenbosch op CD vasgelê is. “Ons het na meesteropnames van lewende uitvoerings deur die Rynse orkes in Duitse konsertsale geluister en die klank tegnologies na wens verander,” en so het 3 CD’s in een omslag die lig gesien.

Schumann sê sy en Magalhase verkies ’n lewendige klank wat verkry word deur die mikrofone digby die instrument te plaas.

Suid-Afrikaanse musici
Suid-Afrikaanse musici met albums by TwoPianists is die pianis Ben Schoeman, mezzo-sopraan Michelle Breedt, klarinetspeler Maria du Toit, tjellis Peter Martens en Schumann en Magalhaes se klavierduo’s.

Kunstenaars wat in die Stellenbosse ateljee opneem, soos Breedt, Du Toit en Martens, het ook die bonus van Schumann of Magalhaes as begeleier.

Schumann en Magalhaes verpak self die albums onder een van drie drukname – 2P records (13 CD’s is reeds hieronder uitgereik), 2P live (twee) en 2P debut (twee).

Aan die kom
“Binne die volgende twee maande sal nog vier CD’s verskyn, waaronder Liszt-etudes deur die Argentynse pianis Aquile delle Vigne en werke van Beethoven en Schumann deur die Amerikaanse pianis Lori Sims.

’n Uitvloeisel uit die ateljee is al hoe meer opnamekunstenaars wat versoek om met Schumann of Magalhaes op te tree.

Schumann begelei Breedt volgende jaar in Londen se Wigmore- en Zürich se Tonhalle-konsertsaal.

Die egpaar se klavierduo’s, waarvan verskeie optredes volgende jaar in Europa gegee word, is ook meer in aanvraag vanweë blootstelling op CD.

Die egpaar gee volgende jaar ook meesterklasse in Europa en onderneem ’n konserttoer deur Brittanje.
blog comments powered by Disqus